Herman Toerien: Internasionale dag van verdraagsaamheid – ’n mooi droom

The three-dimensional word "news"

Dit is vandag die VN se internasionale dag vir verdraagsaamheid, en op 26 November neem talle Christene in Suid-Afrika deel aan ’n dag van gebed om genesing en seën vir die land af te bid.

In Zimbabwe is ’n uitgerekte staatsgreep aan die ontvou; in Suid-Afrika word ’n staatskaping ontrafel met al hoe meer tekens van ’n gepoogde statutêre staatsgreep. Dwars oor die wêreld is tekens van onverdraagsaamheid.

Rassespanning het in Suid-Afrika sulke afmetings aangeneem dat die regering selfs ’n dag teen rassisme uitgeroep, en ’n gemors daarvan gemaak het. Voor dit was die abortiewe Kliptownberaad.

Maar dit was juis tydens die Kliptownberaad dat deelnemers bemoedig was deur die vlakke van verdraagsaamheid wat op voetsoolvlak ervaar word – heel anders as geblyk het uit veral die toesprake van regeringslui.

Bykans elke Suid-Afrikaner het die belewenis van “eilande van harmonie.” Daar kan bygevoeg word, a-politieke eilande. Of dit ’n groot judotoernooi is waar daar geen teken van rassespanning blyk nie, of die bywoon van vertonings van bekende kore, en vele meer.

Suid-Afrika het na 1994 ’n vakansietyd beleef waar omtrent alles wat die ANC-regering verbrou, in die internasionale gemeenskap verskoon is. Suid-Afrika kon so die rugby-wêreldbekertoernooi, die krieket, en oplaas die sokker aanbied.

Maar die vakansietyd, gebaai in die Mandela-euforie, is skynbaar nou iets van die verlede. Graderingsagentskappe slaan die sweep genadeloos, en die regering het nou ’n harde “reality check” gehad toe die aanbied van die 2023-rygbywêreldbekertoernooi as’t ware uit Suid-Afrika se kake geruk en aan Frankryk toegeken is.

Brexit is nog lank nie afgehandel nie, of ’n pypbom is by ’n herdenkingsgeleentheid op die Noord-Ierse en Ierse grens wat ’n warm patat  met Brexit word, gevind. Het die voorval van onverdraagsaamheid – of dalk eerder haat – ’n bydrae gelewer dat ook die Iere nie die toernooi kan aanbied nie?

Natuurlik is verdraagsaamheid nie onder alle omstandighede die antwoord nie. In Sirië kan verdraagsaamheid ’n groot rol speel om vrede onder die nie-Isis-groepe te bewerkstellig.

In Suid-Afrika bou die ongedurigheid onder die bevolking algaande net verder en verder op weens die verdraagsaamheid van wetstoepassingsagentskappe teenoor pres. Jacob Zuma en van sy vriende wat hulle uit die tronk hou. Misplaaste verdraagsaamheid kan ’n land suur bekom – vra maar vir Suid-Afrika. En ja, die aanbied van ’n internasionale dag van verdraagsaamheid, gaan geen jota of tittel verskil maak aan hoe dit op die werklikheid neerslag vind. Op elkeen van die burgers rus daar egter ’n swaar verantwoordelikheid – hoe die gesin die huishulp behandel, hoe ons in werksituasies oor die kleurgrens optree, en vele meer. Die uitdagings word groter as ons in verkeersituasies onderonsies met taxi’s op die lyf loop en die spietkop wat teenwoordig mag wees, kyk liefs heel anderpad.

Verskeie kerke en kerklike instellings ondersteun ’n nasionale dag van gebed op 26 November.  ’n Beroep word op Christene gedoen om hulle voor God te verootmoedig, en te bid dat God ons land sal genees en seën.

Uiteindelik het die land genesing en seën nodig – baie nodig.

Please follow and like us:

Be the first to comment

Leave a Reply