Herman Toerien:- Vasvat van endemiese korrupsie omvattende en taai taak

Opsomming

’n Enorme taak wag op mnr. Cyril Ramaphosa om ’n beduidende duik in die endemiese korrupsie in die land te maak. Het hy die stamina wat nodig is om so iets aan te pak?

Bulgarye se stryd om nie langer die armste en mees korrupte land in Europa te wees nie, word goed omskryf in ’n artikel in De Standaard. Dit gee egter ook ‘n aanduiding van wat vir Suid-Afrika voorlê sou adjunk-president Cyril Ramaphosa dit erns hê om endemiese korrupsie en staatskaping in Suid-Afrika aan die ban te doen. Afrika het immers verskeie “nuwe besems” opgelewer wat as opposisiekandidate hard teen endemiese korrupsie in hul lande gepraat het, en dan, wanneer hulle self aan bewind kom, korrupsie tot nuwe hoogtes voer.

Dit word egter nie van Ramaphosa verwag nie. Die Bulgaarse voorbeeld wys eenvoudig daarop hoe moeilik dit is om met die beste wil in die wêreld, van endemiese korrupsie ontslae te raak. Boonop, op die slegste moontlike tyd, het ’n sluipskutter ’n bekende sakeman oor ’n lang afstand doodgeskiet. Die sakeman was self by die georganiseerde misdaad in die land betrokke, maar sy inligting wat gelei het daartoe dat misdadigers wat op ontvoering gespesialiseer het aan die pen te laat ry, het sy beeld verander.

Boonop beklee Bulgarye sedert die begin van die jaar die voorsitter van die Europese Unie. Die geleentheid is aangegryp om ’n ander beeld van die land te probeer uitdra – en nou die prominente sluipmoord.

Volgens die wêreldbank beroof korrupsie ’n land van sy toekoms.

Analiste beskryf pres. Jacob Zuma openlik as ’n sentrale figuur in die korrupsie-netwerk wat Suid-Afrika se ekonomie laat kreun. Die gebruiklike woord wat skrywers en analiste uit die sop hou, “beweerde”, ontbreek al lankal wanneer Zuma onder die vergrootglas kom. Om van hom as president ontslae te raak het ’n prioriteit geworde omdat sy blote teenwoordigheid in die staatspresidentsamp, die land se ekonomie enorme skade berokken.

En nou het die ANC se nasionale uitvoerende komitee die eerste behoorlike kans onder Ramaphosa verspeel om die land ’n guns te bewys, toe Zuma se toekoms nie eens op die agenda van die eerste vergadering van die nuwe NUK was nie.

Maar sou Zuma van sy amp gestroop word, waar sal Suid-Afrika begin om endemiese korrupsie aan te pak? Die eerste ooglopende punt is die prosesse om staatskaping hok te slaan, en seker te maak dat vervolging sonder versuim plaasvind.

’n Tweede stap sou wees om tenderpreneurskap in die bek te ruk, gevolg deur “kickbacks” op korrupte transaksies.

’n Groot uitdaging is egter die “klein” korrupsie waaraan soveel Suid-Afrikaners blootgestel word, soos verkeersboetes wat gereeld in tjôtsjô omskep word. Georgië en Oekraïne moes hul ganse verkeerspolisiedienste afdank en deur mense wat vir integriteit gekeur is vervang, om die korrupte praktyke hok te slaan. Lees ons van die getalle verkeerspolisie, doeane-amptenare en ander wat byna daagliks gevang word, lyk dit of volledige vervanging in sekere beroepe in Suid-Afrika ook dalk nodig kan wees, so endemies is die korrupsie.

Bykans elke persoon in Suid-Afrika het sy ervaring van die omvang van korrupsie in die land. Van dokumente wat maar net nie wil regkom sonder ’n meevallertjie nie, mediese fondse wat omvattend moet walgooi teen korrupte eise, tot vuurwapens in die polisie se bewaring wat in bendegebruik beland. En wie is nog nie deur selfoonswendelaars probeer inloop nie?

Een persoon, selfs Ramaphosa, kan nie so ’n probleem alleen en oornag oplos nie. Hy sal die hulp van elke eerlike Suid-Afrikaner nodig hê. Hy sal hom met eerlike kabinetslede moet omring wanneer die ANC uiteindelik besef die kwessie van twee magsentrums moet vroeër as later aangespreek word, aangespreek word. Die Spaarvarkiebank van Dubai sal ook onder oë geneem moet word.

En dan is daar nog die erfenis van Zuma se patronaatnetwerk wat nie sommer sal toelaat dat hul wortels uitgetrek word nie.

Enorme werk wag op Ramaphosa. Maar dan moet hy hom nie nou eers in ’n wolk van populistiese twak probeer omring nie. Hy rig net skade aan sy beeld aan wat die werklike take erg bemoeilik.

 

Please follow and like us:

Be the first to comment

Leave a Reply