Nuuskommentaar: Drie belangrike naweeknuusgebeure-Herman Toerien

Opsomming

Dit gebeur nie elke naweek dat daar soveel nuusgebeure is waarvan alle burgers behoort kennis te neem nie, en boonop aandag te skenk aan die ontleding daarvan. Hulle dui op tegelyk losstaande en onderling verbande kwessies. Vanuit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt kan die lysie so lees:

  • Grondonteiening sonder vergoeding.
  • Die AfriForum-debat wat steeds woed tesame met Akademici se petisie teen Ernst Roets
  • Die Ashwin Willemse-debakel

 

Grondonteiening sonder vergoeding.

Die naweek het die ANC sy “huishoudelike” konferensie oor die aanpak van die beleid van grondonteiening sonder vergoeding gehou. Dit is duidelik dat van die sprekers onthuts is oor die tekens dat die buiteland Suid-Afrika hieroor erg verkwalik, en allerlei metodes word aangewend om die kras bewoording te versag.

Ander sprekers beweeg baie na-aan die EFF se beleid en gee skynbaar nie ’n snars om dat baie mense en lande ontevrede hieroor kan wees nie.

Een van die “versagtingselemente” is om dit as ’n juridiese feit te vestig dat grondonteiening sonder vergoeding ingevolge die bestaande grondwet, en in weerwil van die duidelike verbod van artikel 25, lank reeds wettig sou wees. Of juridiese akrobasie voldoende sal wees om die impak van internasionale verdrae wat Suid-Afrika onderteken en geratifiseer het weg te veeg, is lank nie so eenvoudig nie. Suid-Afrika se komplekse proses om uit die jurisdiksie van die internasionale strafhof te tree oor die weiering van die uitlewering van Omar al Bashir, behoort as duidelike riglyn te dien.

Vanaf die president self se kant word die indruk geskep dat nou eers ’n soort konsensus oor die belangrikheid van grondhervoring gevorm word. Terselfdertyd was daar ’n vroeë voorteken dat hy ’n element van soberheid probeer vestig. Soos gebruiklik het hy die voordele en gewaande voordele gelys, maar in plaas van die gebruiklike beklemtoning van die skep van welvaart, het hy nou na die belangrikheid van voedselproduksie verwys.

Net te veel sprekers het genoem dat baie van die aandrang op grond niks met doeltreffende boerdery te make het nie, maar ’n stukkie grond om op te woon, en daarop te bak en brou.

Of die beraad die ANC enigsins vorentoe neem, sal nog gesien moet word.

 

Die AfriForum-debat wat steeds woed tesame met Akademici se petisie teen Ernst Roets

Die woordestryd teen AfriForum het die kenmerk begin aanneem van ’n woordestryd tussen AfriForum en sekere akademici, maar nog heelwat “gewone” burgery neem deel. Dit bevat verskeie onverkwiklikhede soos sito-sito-stellings oor AfriForum wat onwaar is, wat by herhaling ontken is, maar om net so op te diep. Om die oneerlike akademici daarvoor voor die bors te gryp, gaan in sekere kringe baie sleg af.

Die naweek het prof Amanda Gouws van die US met ’n petisie begin teen ’n video wat Roets, onderleier van AfriForum, oor die NWU se mede-professor, Elmien du Plessis gemaak het. Gouws beskryf Roets se video as haatspraak. Lees hier).

Gouws bepleit spraakvryheid, en kan stellig nie verantwoordelik gehou word vir die feit dat dit ’n soort mode geword het van ontleders soos Max du Preez om AfriForum ernstig vir uitsprake en optredes te verkwalik nie.

’n Blote stukkie ironie word hier as interval ingesluit, omdat dit ook op die verdere besprekingspunt betrekking het. Sowat 40 jaar gelede was verskeie universiteite, waaronder Kovsies, sterk beheer deur akademici wat ’n leerstelling afgedwing het van die Christelike beleid van apartheid versus die humanistiese beleid van gelykstelling. Studente wat openlik verskil het, was onder enorme druk al was hulle verseker dat hulle kon verskil mits hulle behoorlik kon aandui hoekom hulle verskil.

Die akademici wat nou Roets se bloed soek, sou veral nou met hul destydse kollegas heftig verskil, maar net so min is daar aanduidings dat Roets, sou hy oud genoeg gewees het, simpatiek daarteenoor wees. AfriForum het immers onlangs ’n eenheid teen rassediskriminasie geskep.

Kortom, daar skort iets as akademici (onder andere) eenvoudig volhou om

strooipoppe op te stel, en daarna te skiet en breedsprakig te kenne probeer gee daar word eintlik op AfriForum aangelê.  (Lees hier).

En in die proses word die eintlike kwessies, die omvang van plaasaanvalle en grondonteiening, van die tafel af baklei.

 

Die Ashwin Willemse-debakel

Die kwessie met sommige bitter lang wortels het so skielik toegeslaan dat ontleders uiteraard traag is dit nou al te probeer ontrafel. Politici is nie so omsigtig nie, en veroordelings, en selfs aandrang op strafmaatreëls vlieg nou al rond. Willemse self het gesê sy mede-aanbieders op SuperSport, Naas Botha en Nick Mallet, was “neerhalend” teenoor hom, en hy het die ateljee toe verlaat.

Die minister van Sport,  Toko Xasa, het aangedring dat Mallet en Botha geskors word.

Die DA-leier het in sy reaksie iets belangrik bygevoeg, naamlik dat te veel swart mense nog ervaar wat Willemse ervaar het.

Tot tyd en wyl die kwessie beter belig is, word bloot vir bietjie historiese perspektief en moontlike afloop gekyk – die era van “oorvleueling”. Dit verwys na ’n destydse newe-effek van die kwotabeleid. Blanke rugbybase was skugter om nie-wit spelers in posisies anders as vleuel te kies (waar hulle min skade kan aanrig – in weerwil van spelers soos Errol Tobias wat ook maar dikwels na senter moes uitskuif). Daar was dus ’n “oorvoorsiening” van vleuels en toe die briljante Vrystaatse vleuel en toekomstige Springbok Friedrich Lombard senter toe moes verskuif, het dit nie gelyk of jong blankes sommer weer behoorlik kans op vleuel sou kry nie.

Die afgelope Saterdag was daar weer tekens van “oorvleueling” toe die drieëkoning, Makazole Mapimpi, as plaasvervanger vir die Haaie gekies is. Ruan Combrink het ook die speelveld vir die Leeus vanaf die reserwebank betree. Let wel, hier word geen waarde-oordeel gevel nie, maar gekyk hoe baie ondersteuners dit kan ervaar. Die feit dat swart en bruin spelers deesdae in enige posisie uitblink skiet in elk geval gate in die idee dat spelers weens hul velkleur as nie geskik vir “ingewikkelde” posisie soos losskakel het nie.

 

Slot

Hoe lank die aanslag uit sekere akademiese kringe teen AfriForum gaan voortduur hang ongelukkig nie net van een van die twee partye af nie, maar ook van ander mense en groepe wie se ore uitgeleen was, en verkies om te klou aan vooropgesette idees.

Elkeen van die hoofrolspelers kan baat by interne prosesse om behoorlik oor openbare beeld te besin. Dit sou ook akademies eerlik wees. Die Willemse-geval toon hoe ragfyn sommiges se gevoelens gespan is, en dat daar nog heelwat heelwerk is.

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*