Springbok en reënboog polities onder skoot – Herman Toerien

Nuuskommentaar: Springbok en reënboog polities onder skoot

Opsomming

Twee naweekrubrieke ruk veel meer oop as die kwessies wat dit skynbaar aanspreek, soos ’n oproep van Johann Maarman dat met die Springbok weggedoen word, en ’n vraag van Mondli Makhanya oor hoe die reënboog nog gered kan word. Is hulle net alarmisties?

 

Die voortgesette gebruik van die Springbok as simbool van die nasionale rugbyspan, word vanoggend weer ingelei in ’n rubriek op Netwerk 24 van Johann Maarman, eindredakteur van Die Burger.

In gister se Rapport vra die bekende joernalis en redakteur van City Press, Mondli Makhanya, Hoe gaan ons die reënboog nog red?

Beide rubrieke moet met aandag gelees word, want dit is propvol politieke dinamiet – en dié term word nie goedkoop aangewend om argumente van die tafel te vee nie. Beide se stellings is diep geanker.

Mondli se rubriek sal seker as ontnugtering kom vir diegene wat nog vasbyt aan die euforie van ’n Mandela-era se reënboognasie, en nou versterk deur ’n soort Ramaforia wat eenvoudig alle gevaartekens ignoreer. Meer as ’n sweempie pessimisme straal uit sy woorde: “Die geskiedenis leer dat hierdie land die laboratorium moes wees vir nie-rassigheid, anti-rassisme en die stryd teen onverdraagsaamheid”.

Die Ashwin Willemse-voorval is klaarblyklik die sweer wat by Maarman oopgekrap is. Maarman, bekend vir sy gebalanseerde en nugter beskouings, laat elke nou en dan ’n handgranaat val. Hierdie een is anders – dis klaarblyklik nie bloot ’n geval van met die verkeerde voet uit die bed klim nie. Hy noem tot Errol Tobias ’n Askari-Springbok, sekerlik die liederlikste betrekhou wat ’n pionier wat dikwels die oë dig moes knyp om ’n tree vorentoe te kon gee, kon kry.

Maar die rubriek het diepgang, en die behoud van die Springbok kan in sy oë nie staande bly omdat Mandela ’n soort reënboogkleed van versoening daaroor getrek het nie.

Te veel krapperighede bly onder die veelkleurige kleed en kankeragtige boosheid toon krap om.

Die hartseer is dat die holistiese situasie waarbinne die beleweniswêrelde van Maarman en Mondli afspeel, veel, veel komplekser is as wat in die twee rubrieke beoordeel word. Die gevolge gaan ongelukkig ook nie uitbly nie – Maarman kan hom gereed maak vir ’n storm – ook in sy eie rubriek se kommentaargeriewe. Vir baie was die Springbok ’n simbool van uitnemendheid, soos gesimboliseer deur die dae van die ou SAL as Vlieënde Springbok. Niemand wil die hedendaagse weergawe se biltong eens verniet hê nie.

Dit is die kleure waarin skares spontaan “Beast” brul as die KwaZulu-Natalse stut net aan die bal vat.  Vele manjifieke drieë deur swart en bruin spelers is al in die Groen en Goud deur euforiese skares van wit, swart en bruin toegejuig. Dit dui daarop dat die naatwerk van ’n skikkingsooreenkoms, wat deur baie as ’n groot prestasie en wonder besing is, aan die nate hou.

En nou?

Moet die bevolking aanvaar dat stemme wat deurgaans bitter verwyt het dat die skikking ’n mite is, en dat die land maar net weggegee is, al die tyd reg was? Dat daar groot verloorders was, en wenners (wie se buit dikwels nie realiseer nie omdat mede-wenners dit steel en kaap)? Of dat, wat al meer as Malema-refrein gehoor word, die land net ’n skynoorwinning vir die swart mense opgelewer het, en dat die slinkse blankes daarin sou geslaag het om dit wat saakmaak, rykdom, te behou?

Ten spyte van Ramaphosa se goeie punte, en selfs ’n versekering in Afrikaans op RSG dat die kwessie van grondgryp “mooi” hanteer sal word, bly dié kwessie soos ’n pap wiel aan die reënboog hang. Of soos Maroela heel aan die aanvang gewaarsku het, dit is soos die ou liedjie van “There is a hole in the bucket dear Lisa”. Die gat word met strooitjies gestop, maar dit spoel moeiteloos weer oop.

Ja, dit beteken nie dat die grondkwessie argeloos begrawe moet word nie, maar voor dit soos handgranate veralgemeend verstrooi word, moet dit verpak word sodat uiteenlopende situasies met uiteenlopende, en passende maatreëls aangespreek word. Anders kan ’n sweer, hetsy op werklikheid of persepsie gebou, aanhou sweer en oopbars. Associated Press het in die VSA in ’n 18-maande ondersoek bevind dat talle swart mense in veral die suide van die VSA oor die jare hul grond op allerlei maniere soos onder meer intimidasie en selfs moord kwyt is – ’n proses wat steeds voortduur. In daardie state alleen is 406 swart grondeienaars altesaam 24 000 akker kwyt.

Kortom, daar is net te veel krapperighede buite-om die formele vredesverdrag en gevolglike grondwet wat nou aanslae daarteen loods. Van die Malema’s is dit te wagte – met die stigting van sy party het hy immers gesê die EFF gaan minder op versoening fokus en meer op revolusie. Die aanslag kom egter van allerlei kante.

Daar is aandrang dat die ou landsvlag en Die Stem (’n FAK-lied) weggebêre moet word, ter wille van die reënboog. Maar nou lyk dit of die aanslag teen die reënboog van alle kante kom en self uiteindelik in die kas kan beland, of nog erger, in die openbaar verbrand kan word.

En geen, maar geen, staatkundige model kan heronderhandel of op ’n ander manier verkry word as al die mense mekaar nie verstaan en begryp nie. Daar is nie kortpad-oplossings nie.

Die Solidariteit Beweging se plan B bring hoop oor ’n wye front, maar dié beweging word ook sterk onder skoot geplaas, nie altyd deur eerbaar by die waarheid te hou nie, skynbaar in ’n lomp poging om die reënboog te beredder – maar in die proses word net gehelp om die reënboog te verrinneweer.

Elke nasie moet met sy jeukplekke saamleef. Soms gaan dit taai, soos met die Kataloniese onafhanklikheidspoging in Spanje.

Suid-Afrika het wel een groot stap teruggegee. Die land het bouers nodig, maar hulle moet figuurlik watertrap omdat hulle andersins heel moontlik op sand of swellende kleigronde gaan bou. Nou het die land eers knap argitekte en beplanners nodig wat oortuigend kan onderhandel en oorredend kan raadpleeg.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*