Nuuskommentaar: Menseregtedag word gevier maar ramptoestand beperk regte – en dis waarskynlik reg so Opsomming

Gaan Suid-Afrika môre Menseregtedag in met die afgekondigde ramptoestand wat nog meer duike in Suid-Afrikaners se grondwetlike menseregte slaan – of is dit beperkings wat in belang van die breë gemeenskap geregverdig is?

 

Dit is môre, 21 Maart, Menseregtedag in Suid-Afrika. Vanjaar val Menseregtedag egter binne die ramptoestand wat verklaar is om die impak van Covid-19 op die land en sy mense te beperk. Onder die beperkende regulasies geld onder meer ’n verbod op byeenkomste van meer as ’n honderd mense (kerkdienste ingesluit) en het vieringe van Menseregtedag self in die slag gebly.

In ’n verklaring wat die regering op 19 Desember verlede jaar uitgereik het word vermeld dat die hoofbyeenkoms vanjaar in Colesberg se sportstadion sou plaasvind. Die aangekondigde tema was: “Die jaar van eenheid, sosio-ekonomiese hernuwing en nasiebou.”

Hierdie tema behoef ’n dwars tussenwerpsel – menseregte bestaan volgens die internasionale reg nie net uit individuele regte nie, maar ook uit minderheidsregte. Hoewel ons grondwet in artikel 235 voorsiening maak vir selfregering, hetsy geografies of korporatief, vir taal-, en kulturele gemeenskappe, is die huidige regering van die dag gekant daarteen. Let wel, ras is, soos die internasionale reg, nie ’n grondslag vir selfbeskikking nie.

Met die Covid-19-pandemie is dit wêreldwyd ’n aktuele besprekingspunt of die maatreëls wat regerings inspan om die siekte onder die knie te kry, nie vergrype teen menseregte behels nie. Frankryk is byvoorbeeld daarvan beskuldig dat dit nou ’n polisiestaat is. Maroela het die onderwerp reeds op 17 Maart in ’n nuuskommentaar onder die loep geneem.  In die media oorsee het die woord “lockdown” (ook byvoorbeeld in Vlaams) diep voetspore begin trap, soos Italië, Frankryk en België, wat onder andere beteken dat skole gesluit is. Die media noem ook dat die “lockdowns” verleng kan word.

Brian Keogh van The Conversation slaan die spyker op die  kop: “Nobody knows how long the crisis caused by the spread of COVID-19 will last – but millions of American workers who are suddenly out of work are wondering how to pay the rent on April 1. Many don’t qualify for unemployment insurance.”

Netwerk 24 berig vanoggend dat “60 tot 70% van die mensdom” Covid-19 op die lyf gaan loop. Lees hier.

Maar raak die bekampingsmaatreëls burgers se grondwetlike regte, wat insluit die menseregte? Die mees omvattende artikel hieroor is waarskynlik een deur die Amerikaanse hoogleraar, Latisha Nixon-Jones.  Sy draai nie doekies om nie: “Indeed, history has shown us that whenever the United States has encountered a biological threat, the government invariably weighs individual freedoms against the compelling need to protect the rest of us from a widespread epidemic. More often than not, a clampdown on civil liberties occurs.”

Maar wat van Suid-Afrika? Die eerste belangrike punt in hierdie verband is dat die regte vervat in die handves van menseregte onderworpe is aan sekere beperkings (artikel 36 van die grondwet). Die grondwet bepaal egter ook dat die handves se regte nie so beperk mag word dat dit die oorspronklike reg tot niet maak nie. Die verklaarde ramptoestand tas veral twee regte aan – bewegings en om in groepe byeen te kom. Artikel 17 maak onder andere voorsiening vir die reg om vreedsaam byeen te kom. Maar wat byvoorbeeld van kerkdienste en sportbyeenkomste wat deur meer as 100 mense bygewoon word?

Artikel 21(1) waarborg die reg op vryheid van beweging, en (2) die reg om die republiek te verlaat.   Maar die ramp-regulasies beperk die reg van bewegingsvryheid aansienlik in, terwyl Suid-Afrikaners verbied word om sekere lande te besoek. Pres. Donald Trump se reisverbod na die VSA, raak ook inwoners en burgers van sekere lande.

Artikel 21 maak byvoorbeeld voorsiening vir die reg op onderwys. Maar nou word skole gesluit. Dit is wel tydelik, maar verskeie lande soos Frankryk, Brittanje en Kanada het reeds aangedui dat hul ramp- of noodtoestande verleng kan word, wat weer verband hou met onsekerhede oor hoe lank hierdie maatreëls moet geld om die siekte se ergste tande te trek.

Let ook daarop dat die regering reeds aangekondig het dat nog strenger maatreëls in die pypleiding is, en dat nog strenger opgetree gaan word om dit toe te pas.

In die VSA dui ’n peiling daarop dat ’n kwart van die kiesers voel die presidentsverkiesing later vanjaar moet uitgestel word as Covid-19 steeds ’n probleem is, en nog meer voel die nominasieverkiesings wat nog gehou moet word uitgestel word. In Suid-Afrika is tussenverkiesings nou vir eers van die baan, terwyl die grondwet gereelde verkiesings waarborg.

Oor die breër front in SA, is die vraag of die regering en howe groepe se regte, ook internasionale minderheidsregte beskerm soos die grondwet vereis, is daar min of meer eenstemmigheid dat dit nie die geval is nie. Die afjak vir Afrikaans by universiteite ter wille van ’n transformasie-uitleg, is nou reeds ’n oorbekende werklikheid. Die beoogde wysiging van artikel 25 om grondgryp sonder vegoeding gebaseer op ’n vals narratief moontlik te maak skreeu teen die internasionale reg.

En die SA Menseregtekommissie? Net een woord: “Sies.”

Maar met die beperkings om die pandemie te prober hokslaan verdien die regering nou ’n veertjie in die hoed – solank dit nie vir ander doeleindes misbruik word nie.

 

 

Herman Toerien

Aktualiteitspraktisyn

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*