Herman Toerien: Te veel, of te min regering?

The three-dimensional word "news"

Tradisioneel wil Amerikaners hê dat die regering se rol so ver moontlik ingeperk word. Dit is om te voorkom dat die staat individuele vryheid te veel inperk, en vryheid is iets wat vir die Amerikaners uiters belangrik is.

Hoewel dit nog die geval is, dui ’n meningspeiling nou daarop dat die minste Amerikaners ooit ’n moeilikheid met die hoeveelheid mag waaroor die staat beskik. Dit lyk nie of ’n tevredenheid met pres. Donald Trump se bewind hiertoe bydra nie. Hoewel tevredenheid met sy werk die laaste paar dae effens toeneem het, staan dit nog op minus 15, teenoor minus 26 vroeg in Augustus. Hy kon laas op 3 Maart vanjaar ’n positiewe syfer, weliswaar net-net positief op plus een behaal.

Tog, ten spyte van die baie kritiek wat die Kongreslede kry, toe storm Harvey sy verwoestingswerk verrig het, was die burgers gou om bakhand by die regering te staan vir hulp. Ernstige storms tref die VSA nou gereeld, en met elke storm word die Amerikaners herinner aan hul afhanklikheid van die federale regering. Die verskriklike lewensverlies en skade deur Harvey het volgens peilings ook die omgeegees van Amerika laat ontwaak.

Die debat oor te veel of te min regering, word wêreldwyd gevoer, en die antwoorde is nie maklik nie. Ook hier manifesteer dit ten dele in die howe, en selfs die Konstitusionele Hof, waar koppe gestamp word oor waar die grens lê waar die hof te veel mag aan die dag sou lê deur te ver in die verantwoordelikhede van die regering in te meng. Die gewone landsburger sou waarskynlik voel die vraag moet bloot wees of die staat die grondwet skend deur ongrondwetlik op te tree.

Die ANC is lief om voor verkiesings met hul sogenaamde goeie storie vorendag te kom. Daar is soveel huise gebou, soveel mense kry maatskaplike toelaes, en soveel word vir MIV/Vigs behandel. Dat die huise uitmekaar bars, dat die strate vol riool is, dat talle dorpe werklik wanfunksioneel is, dat werkloosheid en armoede sterk aan die deur klop, dat misdaad hande uit geruk het maak uiteraard nie deel uit van die goeie storie nie. Die goed wat so verkeerd loop is oorlede apartheid se skud, of die skuld van wit monopoliekapitaal, of die stadige pas van grondhervorming.

Dat staatskaping waarskynlik ’n R100 miljard uit die ekonomie geruk het, se blaam moet ook elders heen verplaas word want die verdagte plegers van hierdie ekonomiese sabotasie is vriende van die president. As ’n groot deel van die droogtehulp nie by die veronderstelde begunstigdes uitgekom het nie, maar skynbaar verdamp het, is dit die boere se skuld.

’n Kenmerk van ’n grondwetlike demokrasie is die opkoms van, naas ’n vrye pers, die totstandkoming van burgerlike strukture, soos byvoorbeeld Freedom Under Law, Outa en die Solidariteit-beweging. Aan die een kant word probeer om die regering sy grondwetlike pligte te laat nakom, en aan die ander kant ’n groot aantal selfhelpaksies waardeur gemeenskappe bemagtig word om minstens te sorg dat hul eie gemeenskappe die gees van uitnemendheid dra. Vat hande en help dat projekte soos opruimaksies, buurtwagte en die uitbouing van Akademia slaag, want om vir hierdie regering te wag om vinger te trek gaan dalk ’n baie lang wag behels.

Please follow and like us:

Be the first to comment

Leave a Reply