Herman Toerien: Politieke geweld nie deur grondwet self gekeer

Opsomming

Die geweld wat die naweek met die Katalaanse referendum oor onafhanklikheid uitgebreek het, en in effek daartoe gelei het dat Spanje Katalonië geherkoloniseer het, toon hoe belangrik dit is dat ’n grondwet vanuit die staanspoor werklikhede, soos heterogeniteit, behoorlik ondervang. Ook die geweld tydens die ANC se Oos-Kaapse kongres kan na gebreke in die grondwet teruggevoer word, hoewel die situasies in Spanje en Suid-Afrika hemelsbreed verskil.

Politieke geweld is feitlik wêreldwyd nie ongewoon nie. Die naweek is politieke geweld in onder meer Suid-Afrika en Spanje ervaar. Beide lande het grondwette, en boonop word Suid-Afrika se grondwet as een van die bestes, en soms nog selfs as die beste ter wêreld, beskryf.

Die oorsake vir geweld tussen wat in Spanje en wat in Oos-Londen (en op ander vlakke elders in Suid-Afrika) gebeur is uiteenlopend.

Spanje

Spanje se probleem is breedweg dat ’n welvarende minderheid, die Katalane, ’n referendum wou hou om oor onafhanklikheid te beslis. Die Spaanse grondwet vereis egter dat die hele Spanje, en nie net die Katalane nie, hieroor moet beslis, en dié standpunt word sterk deur die Konstitusionele Hof en die Spaanse regering gesteun.

Vir die Katalane voel dit soos ’n blywende veroordeling tot ’n posisie van kolonie wees. Algemeen is aanvaar dat die meerderheid – tot sestig persent, van die Katalane – nié onafhanklikheid steun nie, maar die imperialistiese en gewelddadige wyse waarop Spanje die situasie hanteer het vermoedelik die situasie aansienlik verander. Die referendum, wat Spanje deur polisiegeweld probeer keer het, het wel plaasgevind. Honderde mense is beseer. ’n Kloof is tussen die Katalane en die Spanjaarde ingeslaan, lui koerantopsskrifte.

En die Europese Kommissie (die kabinet van die Europese Unie) swyg in alle tale. Dis glo ’n “interne aangeleentheid.”

Tog is daar die moontlikheid dat, afhangende van die uitslag, Katalonië eensydige onafhanklikheid sal verklaar.

Die Spaanse eerste minister verklaar vroom dat hy nie die deur vir dialoog toeklap nie “maar dan moet dit binne die perke van die wet geskied.” En die wette en grondwet sluit Katalaanse onafhanklikheid uit. Die gemors is juis dat die Spaanse wetgewing, wat indruis teen die internasionale reg, nié ’n kompromis toelaat nie.

Aanvanklik is Spanje aangeprys omdat dit, ter wille daarvan om lid van die Europese Unie te kon word, taamlik wydlopende selfregering aan die Baske en die Katalane toegestaan het. Dit het gehelp om die Baskiese terreuroorlog wat oor dekades gestrek het, tot ’n einde te bring. Onder die opskrif, Koel koppe nou in Spanje nodig, skryf Leopold Scholtz egter dat die Spaanse Konstitusionele Hof dié ongelyke magte tussen provinsies in 2010 ongrondwetlik verklaar het.

In ’n stadium het politieke wetenskaplikes groot gewag daarvan gemaak dat as daar ’n tipe oorkoepelende regering tot stand kom, soos die Europese Unie, minderhede in bepaalde lande ’n strewe na ’n losser band met hul “moederland” sou begin ervaar, en eerder regstreeks by die oorkoepelende regering sou wou inskakel. Dié skynbaar nugtere siening het skynbaar in politieke inkorrektheid verval.

Tog was dit baie duidelik met Skotland te sien. Selfs voor die Skotse referendum was die Europese en Britse parlement as gelykes op die webwerf van die Skotse parlement aangebied. Die pro-onafhanklikheidsgroep het hul sterk ten gunste van voortgesette lidmaatskap van die Europese Unie uitgespreek en dit het ook so geblyk toe Brittanje referendum oor die voortgesette lidmaatskap met die EU gehou het.

Min of meer dieselfde tendens was in België sigbaar waar Vlaamse politici toenemend internasionale rolle begin aanneem het asof daar geen Belgiese regering was nie. Dié posisie het ietwat verander na die Vlaminge die Belgiese regering “oorgeneem” het.

Ook nou beroep die Katalaanse politici hulle sterk op die Europese Unie om sy verantwoordelikheid na te kom.

Maar die Europese Unie se sentimente teenoor minderheidsgroepe het skynbaar aansienlik afgekoel. Dit was vir Skotland duidelik gemaak dat voortgesette lidmaatskap na onafhanklikheid van Brittanje feitlik onmoontlik sou wees. In die geval van Spanje, word (nog) geswyg.

Suid-Afrika

In Suid-Afrika is die geweld in die Oos-Kaap ’n manifestasie van die tweespalt in die ANC, wat plek-plek op ’n gewelddadige magstryd uitloop. Dit, op sy beurt, is gebore uit die eenparty-belewenis van die ANC wat nog deur baie ervaar word. Vir baie is daar geen politieke (en materialistiese) bestaan buite die ANC nie. As iemand dit nie binne die ANC maak nie, so word gevoel, is daar geen alternatief nie, al beteken dit hongersnood.

Met die krimpende ANC word die soustrein egter korter. Sommiges sien hoe die wind waai en sluit by opposisiepartye aan, vir ander bly die opsies daarvoor uitgesluit.

En wie uitgesluit word, word behoorlik uitgesluit.  Al manier is om howe toe te gaan, en dit verhoog die spanning. ’n Gekonkel met die nominasieproses vir kongresse het tot ’n fyn kuns ontwikkel, en sommige politici het meesters daarvan geword. Selfs ouditeringsprosesse om te bepaal wie wettige afgevaardigdes is, wat langer as ’n dag kan duur, skakel nie die werklikheid van ’n gekonkel na alle kante uit nie.

Dis uiteraard ’n swak plaasvervanger vir veelparty-demokrasie, juis noudat dit lyk of Suid-Afrika uiteindelik op pad is om ’n demokratiese werklikheid te verkry wat in pas is met dit wat die kiesstelsel voor ontwerp is.

Grondwet

Bogenoemde uiteensettings is heeltemal te oorsigtelik om reg te laat geskied aan die komplekshede van beide situasies. Wat wel baie duidelik blyk is dat ’n grondwet in ’n heterogene land voldoende voorsiening moet maak vir die heterogeniteit.

Ideaal gesproke sou dit beteken dat politieke sosioloë ter aanvang ’n werklikheidsprofiel saamstel, dit deur politieke wetenskaplikes, bygestaan deur politieke geograwe en ekonome, opgevolg word en ’n staatkundige model voorstel. Staatsregslui giet dit dan in ’n grondwet. Dié grondwet moet in pas wees met die internasionale reg (wat minderheidsregte insluit).

As die argitektuur weens ideologiese oorwegings van die werklikheid afwyk, word uiteindelik op sand gebou.

Dan word die belaglike situasie beleef waar die Spaanse premier hom op die reg kan beroep, gerugsteun deur die konstitusionele hof, dat Spanje kolonialisme kan pleeg, en die veronderstelde waghond oor selfbeskikking vir minderhede, die Europese Kommissie, soos die grondwet van die Europese Unie vereis, sit en tande tel wanneer dit gewelddadig onderdruk word.

Hierdie is wel ’n erg oorvereenvoudigde uiteensetting, en daar is byvoorbeeld nie onderskei tussen die reg op selfbeskikking en die reg op onafhanklikheid nie. Laasgenoemde is baie kompleks en streng voorvereistes geld. Dit word ook deur die Suid-Afrikaanse grondwet uitgesluit, waar die grondwet wel in artikel 235 vir selfregering (geografies en korporatief) voorsiening maak.

Please follow and like us:

Be the first to comment

Leave a Reply