Herman Toerien: Het ons nou ’n Zombie-regering?

’n Britse rubriekskrywer het pas geskryf die Tories onder Theresa May sou eintlik gelukkig wees om eerder die eienskappe van ’n zombie-regering te hê as die werklike probleme waarmee die party nou te kampe het. Verkeer die Suid-Afrikaanse regering dalk ook in so ’n slegte posisie dat dit selfs erger as ’n zombie-regering is?

Het Suid-Afrika ’n zombie-regering? Die vraag kan gevra word nadat ’n Britse rubriekskrywer, Owen Jones, in The Guardian die regering van Theresa May met ’n zombie-regering vergelyk het. Die “eienskappe van ’n zombie-regering” kry hy uit ’n aantal zombie-flieks, en hy kom tot die gevolgtrekking daar is verskeie ooreenkomste. Maar ’n zombie-regering het ’n gemeenskaplike doel, naamlik om teen die vyand te veg, en hulle staan altyd saam. May se regering sou gelukkig wees om ’n zombie-regering te kon wees, is sy slotsom.

Jones se kritiek op May se regering van onderlinge rugstekery, is nie die hoofprobleem nie. Hy meen die party word afgetrek deur die dooie gewig van die neo-liberale beleid, iets wat volgens hom die sosiale demokrasie verdring het, en nou tot ’n rits euwels, soos ’n groot inkomstegaping gelei het.

Jones se  artikel het blitssnel na ander media versprei, ook buite die Engelse wêreld. Iemand neem hom bepaald ernstig op.

Dit sou interessant wees as ons sou sien wat sou gebeur as Jones die ANC met ’n Zombie-regering sou vergelyk.

Milde ooreenkomste is daar wel, maar binne die ANC vind ongelooflik baie rugstekery (soms gesofistikeerd) plaas, en soms selfs politieke sluipmoorde.

Op die minste kan gesê word dat Suid-Afrika ’n baster-zombiestaat is. Die meer aanvaarbare woord, hebride, sou teen die agtergrond van die smerigheid en chaos van die bastermodel hopeloos te beskaafd wees. Die bastermodel staan as die zomba-zupta-model bekend.

Ten eerste, dit is duidelik dat Zuma ’n meester is om mense se breins “op te eet.” Dit besorg aan hom ’n bykans onaantasbare posisie in die ANC. Gelukkig is nie almal nie, veral nie buite die ANC nie, vatbaar om hul breins verslind te kry nie.

Soos met ’n regte zombie, word daar genadeloos op Zuma jag gemaak. Dis egter nie so maklik om die “undead” van die gras af te maak nie, en hy word blindelings deur ’n magdom lakeie beskerm.

Sy “beleid”, uitsprake wat oor die ganse wêreld heen Suid-Afrika se naam bollie gemaak het, en optredes herinner aan dié van ’n breinlose. Vir  gewetenloses was dit maklik om ’n staatskaping uit te voer – Zuma kon eenvoudig nie die konsekwensies insien nie.

Die mate waartoe Zuma van die werklikheid verwyder is, is toe hy in ’n toespraak voor die Nasionale Raad van Provinsies, die kritiek op hom en sy lakeie aan kritiek op die land gelyk gestel het. Hy het sulke kritiek op die land, veral wanneer dit op sy kwesbaarste is, as onpatrioties beskryf. En dan graaf hy die ou koeie van apartheid weer uit die sloot as iets waarteen saamgestaan moet word. Op die koop toe het hy Jacques Pauw se boek met sy gebruiklike gegiggel, en die ydellike gebruik van die Here se naam (in Afrikaans nogal) as lawwigheid probeer afmaak … terwyl einste sy eie staatsveiligheidsagentskap ’n kriminele klag teen Pauw oor die boek by die polisie ingedien het.

Dit komende nogal van ’n president wat feitlik deurlopend sy ampseed in die grond vertrap.

Suid-Afrika gaan waarskynlik in 2013 die rugby-wêreldbyeenkoms aanbied. Selfs al hou die Suid-Afrikaanse moordkoers op met styg, beteken dit teen die wet van gemiddeldes dat vyf tot ses van elke 100 000 toeriste wat die toernooi uit die buiteland kom bywoon, vermoor gaan word. Is dit dislojaal om te wonder of dit in Suid-Afrika se belang gaan wees om die toernooi aan te bied? ’n Leser het na aanleiding van gister se nuuskommentaar  hieroor, hierdie rubriekskrywer uitgedaag om na die “negatiewe” artikel nou ook ’n positiewe te skryf.

O ja, dit sou maklik wees – oor die baie toeriste wat die land besoek, die vol stadions waarvan baie andersins na die wêreldsokkertoenooi as wit olifante staan wat weer vol benut word, ons land se pragtige natuurskoon, en vele meer.

Dié rubriekskrywer streef egter daarna om objektief die waarheid te skryf, en dit nie kunsmatig positief of negatief te kleur nie. In dié stadium probeer Ierland en Frankryk die toernooi vir hulself beding, met veral Ierland wat op die Suid-Afrikaanse gevare klem lê. Ons kan nou volstruispolitiek speel …

of ons kan jag op die zombies maak.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*